INHOUD

Home

Editor's Letter

TECHNOLOGY

Reinventing the tube

Keeping up with the Times

J-blogging the best of both worlds?

'n Kykie na die veranderende eenoog-koning

MXit worth its moola

Techno impaired

Mobile media: A threat?

PEOPLE

Solo journalism

What the eyes do not see, does grieve the heart

Beautiful journalism

Vrouetydskrifte + die internet = 'n blink toekoms?

Can u sms it 2 me?

Do you get your news?

Die Burger vir die burgers

The artist formerly known as the audience

THE CHANGING ROLE OF THE MEDIA

Rebuilding the Chinese wall

Politici en hul waghonde

ENVIRONMENT

Burning issue: A changing climate, a changing media

Van toeka tot nou: Die 50/50 suksesverhaal

ART

Kort aan kortverhale?

"Teater van die gedagte" se swanesang?

Gevra: 'n drukmedia Harry Potter

Fluit-fluit is die storie uit vir boeke en boekresensies?

SPORT

Wat sport van vol is, loop die pen van oor

Keeping the game alive...with "sportainment"

 

 

"Teater van die gedagte" se swanesang?

Dekades voor die televisiesepie sy aanslag op oud en jonk gemaak het, was daar ’n medium wat luisteraars gaande gehad het. Kenners sê dié medium het ’n knou gekry met die koms van televisie en nog meer met die internet. Sven Hugo het gaan ondersoek instel om te kyk – en te luister – na die huidige stand van radioverhale en of dié medium ’n toekomstige plek in die ewige veranderende medialandskap het.

Radioverhale of radiodramas het lank ooms en tannies – en die jonger geslag volgens kenners – vermaak met verhale soos Wolwedans geskryf deur Leon van Nierop.

Voor verslaafdes hulself aand ná aand aan die stoel begin vasboei het vir die nuutste intriges van Egoli – een van Suid-Afrika se gunsteling sepies, het onsigbare karakters gehore se verbeeldings geprikkel. Die enigste verskil: luisteraars het self besluit hoe hul gunsteling karakters en hul omgewing lyk. Anders as vandag waar gesoute sepievervaardigers soos Franz Marx van Egoli of Danie Odendaal van 7de Laan-faam hul karakters en omgewings se voorkomste bepaal.

In ’n e-pos onderhoud met Leon van Nierop, skrywer van radiodramas soos Herberg vir ’n vlugteling en die treffer televisiereeks Ballade vir ’n enkeling, en professor in film by die Tshwane Universiteit van Tegnologie, sê hy dit sal moeilik wees vir radiodramas om met programme op televisie of die internet mee te ding. “Die jeug het soveel visuele stimulasie dat ek nie dink klank – behalwe musiek – sal hulle betrek nie.”

Die bekroonde radiodrama-regisseur Margot Luyt, sê in ’n onderhoud die regieproses van radiodramas verskil van film of teater-regie. “Die regisseur moet ’n produk skep wat die drama in die gedagte
van die luisteraar gestalte laat kry.”

“Jy werk net in klank, dus moet jy klankprentjies skryf en skep sodat die luisteraars dit kan sien,” sê Van Nierop.

Luyt sê radioverhale staan ook bekend as “teater van die gedagte”. Sy sê radiodramas vergoed vir die gebrek aan visuele stimulasie deur klank te gebruik om omgewing en atmosfeer te skep. “Klanke is dus die kwashale waarmee die skildery gemaak word. Myns insiens is dit ’n betowerende situasie,” sê sy.
Tekste wat vir radioverhale geskryf is, is dus ’n “opwindende uitdaging” sê Luyt. Die teks word vir ’n blinde gehoor geskryf en “moet die luisteraar se belangstelling vasvang en dit enduit hou,” sê sy.

William Scanton skryf in sy artikel “Die onsigbare teater van die radiodrama” in die Critical Quarterly, hoe elke luisteraar intiem verkeer met die verhaal, maar salig onbewus is van die hordes ander wat ook betrokke is by dié proses. Scanton verwys na Martin Esslin wat in sy oorsig oor dié medium skryf: “Gekonsentreerde luister na ’n radioverhaal is meer soos die ervaring van droom as dié van boek- lees.”

Luyt sê sy kom agter dat hul mark jonger sowel as ouer luisteraars insluit. Teksskrywers word dus aangeraai om so ’n wye gehoor moontlik in gedagte te hou wanneer hul tekste skryf. Van Nierop sê egter dié teikengehoor is hoofsaaklik ouer luisteraars en diegene in motors.

Hy sê luisteraarsgetalle het die afgelope dekade afgeneem. “Dalk omdat dié medium nie meer teen ander media kan kompeteer nie en skrywers nie meer daarin spesialiseer om vir die radio te skryf nie.”

Luyt sê luisteraarsgetalle wissel van 100 000 tot 150 000 per radioverhaal. Getalle wat belowend is vir ’n medium wat baie sê op sy sterfbed lê. Luyt sê die verskyning van televisie het ’n groot impak gehad op luisteraarsgetalle, maar sy vermoed getalle is weer besig om toe te neem.

Bekende name in die televisie-en-teaterwêreld is betrokke in die radioverhaal-bedryf. Die akteur Francois Toerien doen gereeld stemwerk vir dramas op RSG. “Ek is baie opgewonde oor die belangstelling by spelers,” sê Luyt.

Alhoewel daar wye belangstelling is by akteurs, is daar ’n aanvraag na skrywers. “Ons wil graag baie meer tekste ontvang van voornemende en bestaande skrywers,” sê Luyt.

Die RSG/Sanlam-dramaskryfkompetisie is juis ingestel om skrywers aan te moedig om radiodramas te skryf. Vanjaar word dié kompetisie vir die twaalfde keer aangebied. Die handleiding van dié kompetisie, wat beskikbaar is op RSG se webwerf, sê die “basiese toerusting” waaroor skrywers wat deelneem moet beskik, is die vermoë om te kan skryf, ’n fyn waarnemingsvermoë, en goeie beheer oor die taal waarin geskryf word.

Dié handleiding voeg by dat, anders as in ’n teater waar die toeskouers ’n vervelige vertoning uit hoflikheid sal aanhou kyk, kan ’n radioluisteraar eenvoudig net na ’n ander stasie oorskakel. “Die luisteraar moet reeds op bladsy een besluit of hy gaan luister.” Van Nierop sê die tempo moet “vlot” en “vinnig” wees om die luisteraar se aandag deurentyd te hou.

“’n Uitstekende radiomatige teks, ’n begrip vir dié medium en knap radio-geletterde spelers is wat ’n radiodrama besonders maak. Nou reisiger wat einde Junie op RSG gespeel het, is ’n goeie voorbeeld,” sê Van Nierop.

Volgens Luyt, is Chris Barnard se Blindemol ’n voorbeeld van ’n uitstekende en suksesvolle radioverhaal.
“Dit is my missie dat mense weer van die radiodrama begin kennis neem,” sê Luyt oor die dalende gewildheid van dié medium. Luyt is seker radioverhale gaan luisteraars aan die skinder hê vir ’n geruime tyd. “Daar is beslis ’n toekoms vir die radiodrama,” sê sy.

Van Nierop is meer skepties. Hy sê luisteraarsgetalle het afgeneem die afgelope dekade, maar glo die radiodrama het nog ’n plekkie in die son.

“Radiodramas het ’n toekoms in die mediawêreld, indien dit reg bestuur, geskryf en opgevoer word.”